Dr. Abel Pienaar se Onbybelse Sienings

deur Bibleguidance

In sy artikel oor Jesus Christus en sy evangelie (Die Ou Dominee en Ek) neem dr. Abel Pienaar van die Renaissance Gemeente in Pretoria verskeie standpunte in wat lynreg met Bybelse sienings in botsing is. Die  volgende is die belangrikste hiervan:

Eietydse (multigodsdienstige) spiritualiteit

Wie is dr. Abel Pienaar? Op die webblad van die Sentrum van Eietydse Spiritualiteit (http://www.spiritualiteit.co.za/) word hy só bekendgestel:

“Dr. Abel Pienaar is verkies as die eerste direkteur vir die Sentrum van Eietydse Spiritualiteit (SES). Die vyf stigterslede is Prof. Celia Kourie, Prof. Kobus Krüger, Prof. Hansie Wolmarans, Dr. Piet Muller en Dr. Abel Pienaar. Abel Pienaar het twee grade in Teologie (Universiteit van Pretoria) en ’n doktorsgraad in Filosofie van Godsdiens. Hy het vir elf jaar gewerk as voltydse leraar in die Ned. Geref. Kerk in ’n makro gemeente in Pretoria. Tydens hierdie tyd word hy verkies tot die Sinode se direkteur: Sentrum vir Spiritualiteit, ’n posisie wat hy behou tot hy in 2006 bedank uit die NG Kerk. Abel het gestudeer onder Thich Nhat Hanh (Zen Boeddhis, Frankryk) en ook blootstelling gehad en geleer by o.a. die huidige Dalai Lama, Fr. Thomas Keating, Biskop John Selby Spong, Ken Wilber, Sam Harris ens. Abel is ’n leraar van Renaissance, ’n gnostiese gemeente in Pretoria. Hierdie geestelike gemeenskap het gegroei en daar is middel 2008 ook in die Kaap begin met ’n Renaissance Gemeente. Abel dien ook op die Nuwe Hervorming Netwerk se dagbestuur vir die afgelope 3 jaar. Hy het ’n voltydse praktyk (Inner Awareness Therapist) en het ’n meditasie studio waar hy weekliks meditasie klasse aanbied.”

Die Bybel is metafories geskryf in ’n voorwetenskaplike tydperk

Volgens dr. Pienaar het Jesus in metafore gepraat sodat sy onontwikkelde en ongeleerde tydgenote beter kon verstaan wat hy wou sê. Abel meen ons moet nie die fout begaan om ’n letterlike betekenis aan hierdie metafore te verleen nie, en eerder die Bybel as mitologiese teks hanteer. Hy probeer om ’n sterk saak uit te maak ten gunste van die siening dat die werklike (historiese) Jesus nie dieselfde is as die Jesus van geloof wat in die meeste kerke verkondig word nie.

Abel is ’n moderne gnostikus

Wat is gnostisisme? Teologiese ontwikkeling is sedert die tyd van die vroeë Christelike kerk tot ’n groot mate deur die filosofie beïnvloed. Aan die beginjare was dit die heidense Griekse filosofie van Plato wat ’n sterk stempel op godsdienstige denke afgedruk het. Sedert die eerste eeu, en gelyklopend met evangeliese beskouings oor die Here Jesus se godheid en inkarnasie, het die Gnostisisme ontwikkel. Dit is van die begrip “gnosis” (godsdienstige waarheidskennis) afgelei, en leer dat kennis, eerder as geloof, die sleutel tot die saligheid is. Hierdie filosofie het tot in die sesde eeu groot aanhang geniet en ’n duidelike invloed op die teologiese beskouings van daardie tyd uitgeoefen. Dit is ontwikkel met die doel om die Christelike godsdiens meer aanvaarbaar vir die Griekssprekende intelligentsia te maak, maar in die proses het die Bybelse godsbegrip verwronge geraak.

Gnostisisme het tans, in die postmoderne tyd waarin die Bybelse Christendom wyd bevraagteken word, weer baie sterk opgeleef. Dr. Pienaar beskryf homself as ’n gnostikus en heg meer waarde aan die buite-Bybelse “Gnostiese Evangelies” as aan die vier Evangelies van die Bybel. Hy verduidelik sy standpunt verder op die webblad: http://www.renaissancegem.co.za/gesprek-abel-pienaar.php.

Oor Jesus se godheid en die betekenis van sy kruisdood

Vir Abel Pienaar is Jesus nie Christus of God nie, en beslis nie uniek wat sy boodskap betref nie. Hy sê: “Ek is ook ’n navolger van Boeddha, Lao Tzu, Rumi, Gibran en Ghandi. So ook van Sokrates, Sartre, Proust, Darwin, Bohr, André Comte-Spongville en vele ander. ... Dit beteken glad nie dat ek dink hulle was of is God nie.”

Hy aanvaar hoegenaamd nie die versoeningswerk wat Jesus Christus aan die kruis gedoen het nie. Hy meen dit was net ’n manier om aan ons te wys dat die selfsugtige eie-ek moet sterf, en dat ons nie altyd ander moet veroordeel en “kruisig” wanneer hulle anders as ons dink nie. Abel sê die volgende oor Jesus se kruisdood en godheid: “’n Jesus-figuur wat ter wille van my aan ’n kruis sterf, werk nie vir my nie. ... Jesus, net soos Boeddha voor hom, het aan ons probeer verduidelik dat ons, net soos hulle, die goddelike binne ons het – dat alles een is met God, een met die lewe en een met mekaar.”

Kommentaar deur Johan Malan

Dr. Abel Pienaar is ’n uitgesproke kritikus van die Protestantse en evangeliese Christendom. Dit is in ’n demokratiese land elke persoon se “wetlike reg” om te glo en te verkondig wat hy wil, en dit het waarskynlik daartoe gelei dat Abel in 2006 uit ’n senior posisie in die NG Kerk bedank het. Die agnostiese standpunte wat hy so openlik inneem, en waarin die evangeliese Christendom as ’n naïewe mite uit ’n voorwetenskaplike tydperk voorgehou word, moet met ewe veel vrymoedigheid deur evangeliese Christene weerlê word. Ten minste weet ons sonder enige twyfel waar ons met hom staan, want hy maak nie daarop aanspraak om die Protestantse of evangeliese Christendom te verteenwoordig nie.

Wat veel meer ontstellend is, is die feit dat verskeie Protestantse teoloë van wie Skrifgebonde beskouings verwag kon word, in ’n mindere of meerdere mate ook die soort standpunte huldig wat deur Abel Pienaar verkondig word. Aangesien hulle aanval op die suiwer leer van die Bybel uit die binnekringe van belydende Christelike kerke kom, hou dit ’n baie groter bedreiging in vir teologiese studente en lidmate van Protestantse kerke.

Paulus het teen interne teologiese verval van hierdie aard gewaarsku, en ook op die ernstige gevolge daarvan gewys: “Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Hand. 20:29-30). Hierdie verval het in ’n evangeliese kerk in  Éfese plaasgevind. Nog voor die einde van die eerste eeu n.C. het hierdie dwalings daartoe gelei dat die gemeente hulle eerste liefde, Jesus Christus, verlaat het en uit die Here se oogpunt van voor af tot bekering moes kom (Op. 2:4-5).

Timótheüs is teen dieselfde verskynsel gewaarsku, en terselfdertyd gemotiveer om daarteen wal te gooi deur middel van die voortgesette verkondiging van Bybelse waarhede: “Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim. 4:2-4; vgl. 2 Pet. 2:1-2).

Die valse leraars waarna hier verwys word, was eers in die waarheid  gevestig maar het later daarvan afgewyk ter wille van populariteit onder hulle dwalende lidmate. Hulle het fabels of mites begin verkondig om dit vir mense moontlik te maak om te glo en te doen net wat hulle wou. Presies dieselfde gebeur vandag – die valse profete bestempel konkrete Bybelse waarhede as mites, bv. die maagdelike geboorte, godheid en soendood van Jesus, asook sy opstanding uit die dood en sy hemelvaart. In die plek van hierdie vaste feite verkondig hulle nou mites uit die Oosterse gelowe, veral selfvergoddeliking en transendentale meditasie. Hulle hang ook spekulatiewe “wetenskaplike” teorieë soos die evolusieleer aan. Hulle is dus self die mitoloë van ons tyd, en nie die evangeliese Christene vir wie hulle so goedsmoeds van naïwiteit en die aanhang van onwetenskaplike mites beskuldig nie.

Johannes sê dat daar nog altyd valse profete was, en met die oog daarop moet Christene nie sommer blindelings elke bewering glo nie, maar dit vir die egtheid daarvan toets (1 Joh. 4:1). ’n Persoon se boodskap word getoets deur dit in die lig van Skrifuitsprake as waar of vals te beoordeel. Stel baie duidelik vas wat die betrokke persoon oor kernwaarhede in die Bybel glo en leer. Wat is sy standpunt oor die Drie-eenheid, die Persoon en werke van Jesus Christus (veral sy godheid en genadewerk aan die kruis), oor die opstanding en die ewige lewe, die letterlike vervulling van Bybelse profesieë, die hemel, die hel en die duiwel, en ook oor sonde – nie net gewelddadigheid, dronkenskap en diefstal nie, maar ook oor sondes soos homoseksualiteit, ongeloof en afgodediens.

Christene wat in gebreke bly om die suiwerheid te ondersoek van die leer wat in hulle kerke verkondig word, sal sommer baie gou aan ernstige misleiding blootgestel word (2 Kor. 11:2-4). Wanneer hulle navolgers van valse leraars word, is hulle net so skuldig soos hulle misleiers. Diegene wat ’n hoë premie op die waarheid van die Bybel plaas, eer nie net die Here nie, maar spaar hulleself ook baie ellende: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh. 8:32).

http://www.bibleguidance.co.za/Afrartikels/AbelAfr.htm